Conrad – Junie 1991

Hieronder volg ‘n herkoutjie, my vertaling vir ‘n musing. Ek het dit in 1991 geskryf na die geboorte van ons tweede seun.

Conrad

Ek hou ‘n stukkie van my seuntjie tussen my duim en wysvinger vas. Dis so groot soos ‘n papajapit. Omtrent net so sag ook. Een helfte is half deursigtig; die ander is pienk-wit…

Saterdagoggend, 8 Junie 1991, vieruur. Ronél maak my wakker met ‘n dringende stem. Min slaap vir té lank laat my droomloos en diep slaap, maar ek is dié keer dadelik wakker. Haar water het gebreek en ons verwagteling is oppad. Anders as met Nicolas was daar éérs kontraksies gewees – so sedert middernag.

Ek sleep my Timex nader en speel met die stophorlosiefunksie. Dié knoppies moet vandag nog baie keer gedruk word. ‘n Ligte sametrekking pak Ronél juis beet en ek kry die teken om die tydsmeting te begin. Ek staan lui-lui op. Vandag gaan ‘n lang dag wees. In elk geval beweeg mens nie te vinnig hier in Columbus in die somer nie.

Ronél werskaf met haar Lamaze-tassie. Al die tasse, ook Nicolas se kuiertassie, is reeds vroeër dié week reggepak. Die ouboet-in-wording gaan by Jeannette, Gareth en Jennifer bly.

‘n Boeretroos later begin die volgende sametrekking. Vyftien minute moet ses word voordat ons University Hospitals toe sal gaan. Ronél lyk vir anderhalf minuut erger as net ongemaklik. Die kontraksie duur langer as wat ek verwag het, maar nou ja, my ervaring met hierdie dinge is nul. Met Nicolas se geboorte het die narkotiseur almal wat moontlik ‘n epiduraal wou hê bygekom net voordat hy Mauritius toe gevlieg het vir vakansie; in Ronél se geval hopeloos te vroeg. Die gevolg was dat sy (en ek) tot nou toe nie ‘n kontraksie ervaar het nie…

Ek wonder wat om daarmee te doen. Vir ‘n oomblik oorweeg ek om dit te bêre, maar dan onthou ek hoe Nicolas se naelstring-stompie na ‘n paar dae gelyk het. 

Tienuur. Die kraamafdeling is besig, maar ons is gelukkig en word dadelik in ‘n birthing room geplaas. Dis waar alles sal gebeur as alles goed gaan. ‘n Labor room is waar die man en vrou eers hard moet werk om te bewys dat hulle ‘n birthing room verdien. Dan is daar twee delivery rooms waarin lui babas die lewe in gehelp word.

Nicolas was baie in sy noppies gewees toe ek hom halfses wakker gemaak het met die nuus dat die groot dag hier is. Die laaste paar dae was maar moeilik vir hom – hy kon sekerlik aanvoel dat iets buitengewoon gaan gebeur. Nukke en huilerigheid is niks nuuts vir drie-en-‘n-half-jariges nie, net vir Nicolas.

Ronél het Chris Copeland omtrent sesuur geskakel. (Haar eintlike verloskundige, Copeland Jr., is natuurlik nie dié naweek op roep nie.) Ons moes wag totdat die kontraksies tussen vyf en ses minute uitmekaar was voordat ons hospitaal toe moes kom.

Die geboortekamer is ruim en uitstekend ingerig, met ‘n privaattoilet daaraan verbind. ‘n Meganiese bed kan met die druk van ‘n reeks knoppies in enige denkbare posisie in gemanipuleer word. As dit vir die vrou enigsins verligting bied om in die vorm van die letter Z die kraampyne te (probeer) trotseer, wie’s ek nou om te stry. Daar is verskeie hoogs gespesialiseerde instrumente wat op verskillende tye ingespan kan word om ‘n onstuimige proses so vlot moontlik te laat verloop. Daar is selfs ‘n 15-cm kleurtelevisie wat aan die meganiese arm met drie vryheidsgrade gekoppel is, juis sodat die vrou Loving kan kyk selfs as sy ‘n Z probeer namaak.

Elke twee pasiënte deel ‘n verpleegster. Ons ontmoet Andrea, ironies genoeg die enigste minority-verpleegster wat ek dié dag sien. Sy is uiters doeltreffend en begin onmiddellik ‘n reeks standaard vrae vra, onder andere of Ronél haar tubes ná afloop van alles gebind wil hê. Sy gee ook vir Ronél ‘n kleed (of eenmanstent) om aan te trek, van dié soort wat mens meer ontbloot as klee. Tot nou toe het niemand ‘n minder vernederende kledingstuk vir pasiënte ontwerp nie. Al van velcro gehoor?

In die herstelkamer staan daar ‘n groot swart asblik met ‘n blou plastiese sak daarin. Ek stap daarheen met die stukkie nog tussen my vingers vasgeknyp. 

Vier-dertig. Ek sit in die hospitaalkafeteria en wurg van die slegte kos af. My vroeë ontbyt is lankal reeds uitgebrand. ‘n Halfdag van masseer, gange op-en-af stap, masseer, wag, masseer en wonder wanneer iets gaan gebeur, lê agter die rug. Teen vieruur het ek só vaak geraak dat ek tussen twee kontraksies op die gemakstoel langs Ronél se bed aan die slaap geraak het.

Vroeër vanmiddag het Ronél en ek die tempo van kontraksies probeer aanhelp deur rond te stap. Aanvanklik het Andrea vir Ronél aan ‘n kardiograaf gekoppel gehad sodat ons te heerlik (tussen kontraksies deur) na die kleinding se hartklop kon luister. Die bedlê het egter die kontraksietempo laat afneem en ons moes noodgedwonge swaartekrag beter inspan. Snaaksgenoeg (en tot Ronél se verontwaardiging) het die ergste kontraksies haar beetgepak sodra sy op die toilet gaan sit het. Ek moes maar dáár oor haar buk om die maseertakie uit te voer.

By die ingang van die hospitaal is daar ‘n kapstok waaraan mens jou inhibisies hang voordat jy ingaan met ‘n kraamgeval. Hopelik onthou jy om dit weer te vat wanneer alles verby is, maar mens kry nooit weer al jou eie inhibhisies terug nie. ‘n Jongerige Jood wat saam in die Copeland-praktyk werk, doen vandag se voorondersoeke. Vanoggend net ná elf het hy homself aan ons voorgestel, minute later voor Ronél plaasgeneem en toe allerande vrae oor haar vordering met sy vingers beantwoord. Nòg ek nòg Ronél kan sy van onthou. Hy sou juis weer só ondersoek doen net nadat ek daar weg was. Drie daarvan deur die loop van vandag was vir my genoeg gewees!

Omtrent ‘n halfuur gelede het die pyne vir Ronél net te erg geraak en het sy ‘n epideuraal aangevra. Sy wou dié keer seker maak dat sy genoegsaam ontsluit was alvorens sy die verdowing neem, anders sou sy (met my aanmoediging) nie so lank daarvoor gewag het nie. Toe die narkotiseur sy trollie doepa by ons kamer instoot was Ronél reeds halfpad ontsluit gewees.

Ek skud my hand liggies oor die oop asblik. Asof dit ‘n wil van sy eie het, klou die stukkie aan my wysvinger vas. Ek wonder hóé dit op my vinger beland het. Hoekom ook.

Dis amper vyfuur. Ek druk die metaalknop teen die muur wat die dubbeldeur na labor and delivery laat oopswaai en stap binne. By die hoek na ons kamer bots ek byna met ‘n verpleegster wat baie haastig by ons kamer uitkom. “It’s you,” sê sy, “I was just gonna look for you! You’re gonna have a baby!

Ek mompel iets van ‘o‘ en ‘thanks‘ en storm ons kamer binne. Ronél lê op ‘n trolliebed en kyk bekommer rond. “Is he OK? Is he OK?,” vra sy.

Haar vraag is vir niemand in besonder nie, en niemand antwoord nie. Daar is ‘n dolle-doeltreffendheid aan die manier waarop almal rondbeweeg en werskaf. Ek het net genoeg tyd om by Ronél te verifieer dat dit nie wéér ‘n keisersnee is nie en dat sy wel volledig ontsluit is voordat sy uitgestoot word.

‘n Verpleegster sê vir my dat ek al ons waardevolle besittings moet gryp en na die verlossingskamer toe moet gaan, hulle sal die res later aan ons besorg.

Oomblikke later staan ek alleen in die kamer. Dis stil. Ek dink momenteel terug aan Nicolas se geboorte en die onbeskryflike alleen wat ek toe ondervind het omdat hospitaalreëls my verbied het om saam met Ronél die teater in te gaan. Hier is dit gelukkig anders.

Voor die verlossingskamer gee iemand my ‘n geel maanpak om aan te trek. ‘n Mondmasker en kopdoek voltooi die mondering. Binne lyk en ruik alles steriel. Ronél lê reeds op die kraamtafel en kyk bekommerd na Andrea wat doenig is met die kardiograaf. Die Joodjie is ook daar rond.

Uiteindelik trippel die hartkloppie weer oor die luidspreker van die kardiograaf en kan Ronél weer (vir ‘n paar oomblikke) ontspan. “Amper loop jy alles weer mis,” sug sy.

Verbysterd skud ek my hand, nou dringend. Dit help steeds nie. Die stukkie klou soos ‘n neet. Ek rol dit tussen my vingers om die ergste kloukrag teë te werk.

Chris Copeland verduidelik aan ons dat hy die proses bietjie gaan bespoedig deur die suier in te span. Die kontraksies weier om meer dikwels as elke vyf minute te kom en die kleinding begin moeg raak.

Ronél en ek knik instemmend. Ons is al veertig minute besig met “push-push-push… two three four five six seven eight, and deep breath in, again…” en dan weer wag vir die volgende kontraksie om te begin. Andrea is steeds haar doeltreffende self. Haar push-push domineer my druk-druk volledig, maar ek sou tog ‘n klankbaan van die hele warboel ná die tyd wou beluister…

Chris het die Joodjie seker ‘n halfuur gelede vervang. Hy het seker gemaak dat Ronél haar vordering in ‘n spieël kan besigtig, en gebruik dit om haar aan te moedig: “Look, you can see the head crown.

Ekself probeer om op Ronél te konsentreer. Sy is geweldig gespanne en tussen kontraksies moedig ek haar aan om soveel moontlik te ontspan. Ek loer ook nou-en-dan in die spieël, maar kan die kleinding nog nie sien nie.

Uiteindelik kom die laaste kontraksie. Ronél en ek druk albei ewe hard, en Chris begin om die koppie met behulp van die suier te verlos. Ek sien net die voorkop en ogies voordat Andrea se push! weer my aandag op Ronél vestig.

Dan kom die skok-aankondiging, steeds in die rustige stemtoon wat Chris dusver so suksesvol gebruik het: “It has a little cleft lip…, and palate.

Ek kan Ronél se reaksie meer voel as hoor, maar haar “Oh, no!” dwing my om self te kyk. Chris is reeds besig om die kleinding se mond en neus skoon te suig. Ek sien, maar dit dring nie tot my deur voordat Ronél vertaal nie. Niks in die wêreld berei mens vir so iets voor nie. Ek weet nie wát om te doen nie, maar troos Ronél instinktief dog onbeholpe met “dis nie die ergste nie; dis OK.”

Die res van die geboorte gaan normaalweg voort, maar ons hoor net so terloops toe Andrea sê: “It’s a boy… at 5:57pm.

Selfs dit help nie. Ek skud en skiet maar die stukkie wil nie loskom nie. 

Terwyl Andrea die kleinman ondersoek (en was) gesels Chris met ons. Hy vertel van ‘nowadays‘ en ‘advanced surgical procedures‘ en ‘support groups‘ en ‘speech therapy‘, maar ek hoor nie veel nie. Ek probeer nog sin maak uit die warboel van emosies en gedagtes in my. Oomblikke gelede het ons die kleinman vir die eerstel maal vasgehou. En dit was asof daar tweespalt in my gedagtes was: “Lelik…” en “…maar hy’s jou seun!”

Die spleet in sy verhemelte is meer aan die linkerkant van die mond. Dit loop van agter af deur die mondkas en linkerneusgat waar dit dan met die spleet in sy boonste lip verbind.

Terwyl die kleinman onophoudelik gehuil en Ronél hom styf teen haar bors vasgehou het, kon ek nie anders as om op te merk dat ‘n klein stukkie van sy tandvleis binne-in die spleet aan ‘n dun velletjie hang nie. Dis omtrent so groot soos ‘n papajapit en ek wonder meteens hoe lank dit nog daar sal bly.

Andrea bring die kleinman vir ons terug en ek plaas hom weer teen Ronél se bors. “Kom ons noem hom Karel Coenraad,” sê Ronél skielik en ek skrik half toe ek my eerste naam hoor.

“Kom ons wag bietjie voor ons besluit,” antwoord ek, wetende dat ons lankal besluit het om ons tweede seun na haar pa te vernoem.

‘n Bietjie later neem ek die kleinman in my arms terwyl Andrea en ‘n ander verpleegster Ronél op ‘n trolliebed help. Andrea stoot Ronél uit die verlossingskamer na die herstelkamer en ons twee volg. Die kleinman huil nie meer nie, maar stoot-speel met sy tongetjie in die spleet.  

In die herstelkamer word  Ronél verder ondersoek. Die kleinman, nou met so koddige kopmussie op, lê weer teen haar bors. Ek buk vooroor en gee Ronél ‘n soentjie op haar voorkop. ‘n Ander vrou word ingestoot en die rustigheid van die oomblik word deur haar verbale objeksies bederf. Andrea fluister verskonend dat dit ‘n noodkeisersnee was.

Dan begryp ek. Die besef bring ‘n merkwaardige kalmte. Dis nie my seuntjie dié nie. My seuntjie lê dáár in Ronél se arms.

Ek staan buite die toe deur na die verlossingskamer. Ronél is weer teruggeneem sodat die Joodjie ‘n paar interne skeurtjies kan herstel. Dié keer is ek nie weer toegelaat om saam in te gaan nie.

Andrea het vir my en ons seuntjie omtrent tien minute gelede na die babakamer geneem. Daar is hy geweeg en gemeet terwyl Pa deur die venster kon waarneem. Teen 3.58 kg weeg hy presies dieselfde as wat Nicolas by geboorte was. Hy lyk egter veel maerder en ek dink sy geboortelengte van 22 duim klop dié van Nicolas.

Andrea, terug van die babakamer waar sy ons seuntjie gelaat het vir verdere waarneming, oorhandig ‘n rekenaarponskaart aan my waarop twee voetspoortjies afgedruk is. Sy herhaal die gelukwense wat op die ponskaart langs die voetspore neergeskryf is en groet my, want haar skof is verby.

Die gang voor die verlossingskamer is stil. Veraf hoor ek nog die gekerm van die vrou in die herstelkamer. Híér kan ek niks doen nie, besluit ek en stap terug na die babakamer waar my seuntjie lê.

Deur die skerms van die babakamervenster sien ek hom poedelnakend op ‘n bababedjie lê. Hy skreeu-huil hartstogtelik en skop sy maer, krom beentjies links-regs links-regs. My oë gly oor die ander babas wat rustig (en volledig geklee) in hulle bedjies slaap. Twee verpleegsters is doenig met twee ander pasgeborenes, en die een kyk asof gesteurd oor haar skouer na die skreuende baba. ‘n Redelose woede pak my beet en ek wil oombliklik gelyke regte, voorregte, liefde en sorg vir my seuntjie van almal opeis, vir nou en vir altyd!

My eerste traan vir hom kom nie uit my oë nie. Ek besef dat ek niks van ander mense vir my seuntjie kán opeis nie, dat ‘normale’ reaksie nie sal kom nie, dat daar apatie, afsydigheid en selfs spot sal wees. En ek besef dat hy soveel meer op my en Ronél sal wil rugsteun, want net óns is sy ouers…

Sy name het eintlik veel makliker gekom as wat ons vooraf verwag het. Ons het lankal reeds op name vir ‘n dogtertjie besluit, maar telkens die finale keuse op ‘n noemnaam vir ‘n seun uitgestel. Nie dat ons onseker was wat om ‘n seun te dooop nie. In beginsel sou ons tweede seun na sy oupa aan moederskant vernoem word, maar nie een van die moontlike afleidings (vir ‘n noemnaam) het byval gevind nie.

In die herstelkamer het hy sy name gekry. Ek het van die swart asblik na Ronél en ons seuntjie teruggestap. Dáár het ek oor haar gebuk en die kleinman saggies op sy mondjie gesoen.

“Hoekom wou jy hom iets heeltemal anders noem as wat ons vooraf besluit het?” het ek gevra.

“Ek weet nie. Dit was seker maar die skok gewees. Maar ek wíl hom tog na Pa vernoem.”

Ronél het my hand geneem en my nader aan haar en ons seuntjie getrek. “Ek het aan ‘Coenraad’ gedink omdat hy jou liefde en ondersteuning soveel te meer gaan nodig hê.”

Conrad Phillip sal binnekort gedoop word.

Die stukkie val uit my hand in die asblik in.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: